
mnr J Mostert
Waarom die onderskeid tussen koverte insameling en koverte aksie belangrik is?
Wanneer mense aan geheime intelligensiebedrywighede dink, kom beelde van spioene, geheime agente, sabotasie, infiltrasie en politieke intriges dikwels by hulle op. In die populêre verbeelding word al hierdie aktiwiteite maklik onder een sambreel geplaas: intelligensie.
Dit is egter 'n wanopvatting. Daar bestaan 'n fundamentele verskil tussen die geheime verkryging van inligting en die geheime uitvoering van optrede om 'n bepaalde situasie te beïnvloed of te verander. In die professionele wêreld van intelligensie staan hierdie onderskeid bekend as die verskil tussen koverte insameling en koverte aksie.
Die verskil is veel meer as 'n kwessie van terminologie. Dit raak aan die wese van intelligensiewerk, die verantwoordelikheid van staatsinstellings en die beskerming van demokratiese waardes.
Intelligensie gaan in die eerste plek oor kennis
Die basiese doel van intelligensie is om kennis te bekom wat nie deur gewone, openlike kanale beskikbaar is nie. Dit kan byvoorbeeld gaan oor die voornemens van 'n potensiële teenstander, die interne besluitneming van 'n organisasie, politieke verwikkelinge of bedreigings vir nasionale veiligheid.
Dit kan deur menslike bronne, tegniese hulpmiddels, vertroulike kontakte of infiltrasie geskied. Die metodes kan geheim wees, maar die doel bly dieselfde: om betroubare inligting te bekom, dit te ontleed en aan besluitnemers beskikbaar te stel.
Die geheimhouding van 'n handeling maak dit dus nie vanself koverte aksie nie. 'n Agent wat in die geheim inligting insamel, is besig met intelligensiewerk.
Koverte aksie het 'n ander doel
Koverte aksie gaan nie primêr oor die verkryging van kennis nie, maar oor die beïnvloeding of verandering van die werklikheid.
Dit kan geheime politieke beïnvloeding, propaganda, disinformasie, ondersteuning van bepaalde groepe, sabotasie of selfs gewelddadige optrede insluit. Die bedoeling is om 'n bepaalde politieke, militêre of ander uitkoms te bevorder of te verhinder sonder dat die betrokkenheid van die opdraggewende instansie noodwendig bekend word.
Dit is belangrik om daarop te wys dat nie elke vorm van koverte aksie noodwendig onwettig is nie. Die wettigheid daarvan hang af van die toepaslike regsgrondslag, magtiging en aard van die optrede. Geheimhouding kan egter nooit op sigself onwettige optrede regverdig nie.
Die eenvoudige onderskeid is dus: intelligensie probeer vasstel wat gebeur en waarom dit gebeur; koverte aksie probeer deur geheime optrede bepaal of beïnvloed wat gaan gebeur.
Wat leer die Suid-Afrikaanse geskiedenis ons?
Die geskiedenis van Suid-Afrika se veiligheidsinstellings illustreer waarom hierdie onderskeid belangrik is.
Gedurende die vorige politieke bedeling het verskillende instellings, waaronder die Suid-Afrikaanse Polisie, die Suid-Afrikaanse Weermag en die destydse Nasionale Intelligensiediens (NI), binne 'n komplekse veiligheidsomgewing gefunksioneer. Hulle verantwoordelikhede en aktiwiteite het soms oorvleuel, maar hulle was nie dieselfde nie.
Vlakplaas, wat onder die Veiligheidstak van die Polisie gefunksioneer het, bied 'n treffende voorbeeld. Die benutting van voormalige ANC- en PAC-aktiviste as sogenaamde askari’s het aanvanklik 'n duidelike intelligensie-insamelingsdoel gehad. Hulle kon organisasies infiltreer en inligting oor hul strukture en aktiwiteite bekom.
Met verloop van tyd het Vlakplaas egter toenemend die karakter van 'n operasionele eenheid ontwikkel. Die latere betrokkenheid by ontvoerings, moorde en aanvalle was nie meer gewone intelligensie-insameling nie. Dit was geheime operasionele optrede, waarvan sommige aktiwiteite ernstige menseregteskendings behels het.
Die Burgerlike Samewerkingsburo (BSB), wat binne die militêre veiligheidsomgewing gefunksioneer het, was eweneens 'n voorbeeld van 'n geheime operasionele struktuur.
Dat intelligensie vir die beplanning van sulke operasies benodig is, verander egter nie die aard van die operasie self nie. Om inligting te versamel ter voorbereiding van 'n operasie is iets anders as om die operasie uit te voer.
Die besondere rol van die Nasionale Intelligensiediens
Hier lê 'n belangrike aspek van die destydse NI se professionele benadering.
Anders as die Polisie en die Weermag het die NI nie oor die uitvoerende polisie- of militêre bevoegdhede beskik om self sulke operasies uit te voer nie. Sy primêre verantwoordelikheid was om nasionaal-strategiese intelligensie aan die regering te voorsien.
Die uitgangspunt was dat 'n intelligensiediens sy geloofwaardigheid moet behou deur die werklikheid objektief te beoordeel en te rapporteer, ook wanneer sy bevindinge ongemaklik is of nie met die regering se beleidsvoorkeure strook nie.
Hierdie benadering het op 'n belangrike professionele beginsel berus: 'n intelligensiediens moet nie tegelykertyd die onafhanklike waarnemer van 'n situasie én die uitvoerder van geheime optrede wees om daardie situasie te verander nie.
Wanneer 'n diens homself aan 'n bepaalde operasionele doel verbind, ontstaan die gevaar dat sy ontleding beïnvloed word deur wat hy graag wil bereik. Inligting wat die operasie ondersteun, kan dan groter gewig kry, terwyl teenstrydige inligting onderskat word.
Die gevolg kan wees dat die intelligensieproduk sy grootste bate verloor: geloofwaardigheid.
Waarom is dit vandag nog belangrik?
Met Suid-Afrika se demokratiese oorgang het hierdie beginsels groter betekenis gekry. Die 1995-Witskrif oor Intelligensie het onder meer die belangrikheid van objektiwiteit, professionele integriteit, politieke neutraliteit en verantwoordbaarheid beklemtoon.
'n Demokratiese intelligensiediens behoort 'n instelling van die staat en sy grondwetlike orde te wees, nie 'n instrument van 'n bepaalde politieke party of groepering nie.
Die onderskeid tussen insameling en optrede help om verantwoordelikhede duidelik te bepaal. Die intelligensiediens moet verantwoordelik wees vir die gehalte en betroubaarheid van sy intelligensie. Die bevoegde staatsgesag moet verantwoordelik wees vir die besluit om op te tree, en die uitvoerende instelling vir die wyse waarop die optrede plaasvind.
Dit is 'n beginsel wat steeds relevant is, ook in 'n tyd waarin nuwe tegnologie en kunsmatige intelligensie die moontlikhede van intelligensie-insameling ingrypend verander.
Uiteindelik gaan dit oor die verhouding tussen kennis en mag. Die taak van intelligensie is nie om die werklikheid na 'n voorafbepaalde politieke of operasionele doelwit te hervorm nie. Dit is om besluitnemers in staat te stel om die werklikheid so akkuraat moontlik te verstaan en verantwoordelik daarop te reageer.
Die waarde van intelligensie lê nie daarin dat dit die werklikheid kan verander nie, maar daarin dat dit die besluitnemer help om die werklikheid beter te verstaan.
Miskien is dit juis die belangrikste les wat ons uit die geskiedenis van intelligensie behoort te onthou.
© nongqai.org
Skryf aan ons oor hierdie artikel
Onthou jy dit, of weet jy meer? Jou kommentaar verskyn hier sodra 'n redakteur dit gelees het.
Die redakteurs kan u kommentaar, met u naam, in die maandelikse uitgawe plaas.





