NONGQAISouth Africa’s National Security MagazineEstablished in 1907
DONATE
Nongqai Skrywers & Boeke - Anita Hamman

Nongqai Skrywers & Boeke - Anita Hamman

Henning van Aswegen
May 21, 2026Junie 2026 uitgaweVol. 17 No. 55 minute om te lees

'OGGEND'

Anita van Aardweg, in die digbundel 'DIE ROOI KOMBERS'

Met my eerste koppie koffie in die hand kyk ek deur die ruite na buite... In die park oorkant die straat Is vier Kraaie, parlementslede geklee in swart manel pak en wit gestrykte hemp heftig aan kras-kras praat Ek wonder waaroor? Miskien oor die stoorkamer in die mik van die boom waar hulle gesteelde goedere stoor ʼn drawwer met ʼn hond kom aan die kraaie vlieg protesterend omhoog met ʼn kras-kras betoog Die dag begin aanstap na ure minute en sekondes Alles word stil elke dag is veels te kort Aand-ure kom straks in swart gehul Kopiereg

*

DRAKIE WIL GRAAG NIES

Drakie woon in ‘n groot park, in ‘n regop huisie met ‘n baie lang skoorsteen. Sy doopnaam is Amos.

Amos is vandag siek, hy het verkoue en sy neus loop steeds, dan jeuk sy neus  heel erg. Amos het sy maats belowe dat hy sal kom speel in die park. “Mamma ek gaan wandel en speel met Wit Swaan, Grys Eekhoring,en Swart Kombuiskat”

“Dit is goed Amos, sorg dat jy tuis kom vir tee en Draak-soetkoekies”

Amos stap deur die park na die water waar Wit Swaan swem. Sy draakstert is baie swaar en sleep agter hom op die grond. Drakie wens hy kan ook sy stert hoog optel.

Mevrou Swaan is langs die kant van die meer. “Goeiedag Mev. Swaan , hoe gaan dit met u.?   “Heel goed Amos, en met jou, ? jy lyk knieserig vir my?”

“Dankie dat u vra, maar ek het verkoue en ek wil nies,” en Amos gryp na sy neus.

“Asseblief nie Amos, hou die nies in, want as jou vlam aangaan skroei jy my vlerke en dan kan ek nie meer swem nie, maar ek swem nou weer verder totsiens Amos” roep sy as sy weg swem. Hy wens hy kan nies sy neus kriewel  heel erg.

Amos sien Meneer Eekhoring , hy het ‘n groot grondboontjie in sy mond en is van plan om in die boom te klim.

“Goeiedag Meneer Eekhoring, neem u ete vir u familie?”

“Amos ons begin ete stoor vir die winter, maar is jy siek, jy lyk so vaal vir my?”

“Ag, Meneer Eekhoring ek het verkoue en my neus loop, en dit jeuk ek wil graag nies” en Amos voel na sy neus.

“Nee, Nee, Amos moenie nies nie, jou vlam sal aangaan en dan brand die boom, en my familie is binne in ons huis. Totsiens Amos ek gaan gou weg” roep Eekhoring, O...nou jeuk sy neus so erg, hy durf nie nies nie, hy trek sy asem diep in.

Amos sien Swartkat sluip tussen die struike, hy is besig om te jag vir muise.

“Goeiedag Swartkat, is jy besig om muise te jag.?

“Natuurlik Amos, jy sien dit tog, maar jy lyk oes vir my is jy dalk siek.?

“Swartkat ek het verkoue, my neus loop en dit jeuk, ek wil graag nies”

“Amos doen dit asseblief nie, as jou vlam aangaan brand jy my pragtige pels, en ook die struike, gaan huis toe en nies onder die skoorsteen”

Amos is hartseer, hy wens dat hy geen Draak is nie, almal vlug  van hom weg, sy stert sleep agter hom en hy gaan na huis.

“Is jy nou al terug Amos?”vra Mamma

“Mamma ek wil nies, en al my vriende is bang dat my vlam aangaan en dan kry hulle seer”

“Amos jy mag maar nies, jou neus is nat dan kan jou vlam nie aangaan nie”

“Dankie Mamma , Dankie, en Amos begin nies, ai tjoe, ai tjoe, ai tjoe, ai tjoe.

Kopiereg behou, Anita van Aardweg

*

Anita Hamman

Swart Swane

Jy het omgedraai

aangestap na die brug

Ek het gewag dat jy nog eenkeer

stilstaan in die middel van die brug

en goodbye swaai

Jy het strak gestaar na die swart swane

op die oewer in sig

die ligte wind het jou hart weg gedra

Ek het omgedraai

my kierie opgetel

Begin stap op ons wandelpad

toe ons nog twintig was

Nou net nostalgiese herinneringe

van koue Winters en warm Somers

Toe vier seisoene nog liefde was.

*

 AFSKEID VAN LEA

ANITA HAMMAN

Dogter van Simon, die slagter

Die spieëls is bedek

die tafel gedek met soetgoed

vir die fees wanneer jy slaap

onder Afrika se sandtapyt

en die ster van David oor jou waak.

Ek onthou ons tye saam in die Kibboets

In Haifa die straat kafee met bagels en suurroom

was dit net ʼn droom?

My pogings om Jiddish te leer,   en julle lag keer op keer

Ek gooi die swart mantilla oor my kop

wanneer die plankies-kis met touhandvatsels na benede sak

dieselfde ritueel  deur eeue heen... sonder enige  dode requiem

vir Lea dogter van Simon op jou reis heen

en net ons bly agter alleen...

*

RAFELS

Onafgewerkte nate van ʼn kledingstuk

Buite bewonderbaar

Binne het dit misluk

Ma doop die geslagte hoender

In die kookwater

Pluk die vere driftig uit

Skroei die dons

S .s.s.s die klank

Rafels af tot teen die naat se kant

Witrot roep die Spook

Ons is ʼn eenheid

Met woorde gedoop

Van buite lag en dans ons

Van binne pyn

Soos ʼn groeisel op jou skouer

Vol pleisters

Die wond bly oop

Soos rafels vas geknoop

Heilige koeie

Weier erkenning

Rafels word boeie

Knip langsaam af

Gooi rafels in die vuur

Verbrand soos verotte kaf

Knip knip tot teen die naat

Sonder praat

Dan is die kledingstuk

Van binne en buite skoon

En kan jy dit met vreugde vertoon

*

AI generated image
AI generated image

'HALWE SEKELMAAN' - ' n Gedig deur Anita Hamman

*

Die Toneelspeler

Die dood is ʼn verhoogstuk

Waar die speler oë sluit

Met wimpers soos waaiers

Op ʼn Somerson dag

Sonstrale stuit

ʼn buiging maak

dan die gordyn laat sak

tot handeklap van die gehoor

langsaam afsterf en

die toneel verlaat

Jare later word steeds

Oor die speler gepraat...

kopiereg Anita Hamman

Gebore op ʼn egte Hugenoot plaas in die distrik Malmesbury.  Liefde vir die die natuur.  Was getroud met Nederlander en reis veel na die buiteland, veral Franse platteland waar die voorouers vandaan kom. Ek het een dogter en kleindogter in Nederland. As kind graag stories vertel en sodoende ontstaan die publikasie van Anita se boeke en digbundel “Die  Rooi Kombers”.

*


Deel hierdie artikel:

Skryf aan ons oor hierdie artikel

Onthou jy dit, of weet jy meer? Jou kommentaar verskyn hier sodra 'n redakteur dit gelees het.

Die redakteurs kan u kommentaar, met u naam, in die maandelikse uitgawe plaas.