DRAAI DIE KAM OM!
*Goudveld Hoërskool in die middel-Vrystaat is bekend as ʼn ‘groot skool,' waar meer as ʼn duisend plaas-, myn- en dorpskinders in die middel-sewentigjare verbete probeer het om uit die kloue van onnoselheid te ontsnap. Ons koshuisouers en begaafde onderwysers het daarin geslaag om aan beide williges en onwilliges ʼn besonderse opvoeding te verskaf. Die poetse, strepe trek en stoutwees het ons self aangeleer - met rampspoedige gevolge.
Leon, Danie en Henning was drie stout koshuiskinders in Gouties se wit en blou koshuis, net langs diè beroemde skool in Welkom se sportvelde en tennisbaan. Ten spyte daarvan dat die koshuis règ langs die skoolgronde geleë is, het Danie elke oggend met ʼn stewige agterstand teen die koshuisklok, en die skool se doodsklok begin. Die ander koshuiskinders was lankal opgestaan en aangetrek, kiertsregop in ʼn ry voor die eetsaal vir ontbyt, dan trek Danie nog in die kamer aan. Deur die venster kon jy baadjies, dasse, skoene en onderbroeke van elke kleur en geur in alle rigtings sien trek. Party kinders het selfs vroeg opgestaan net om dié skouspel deur die venster te aanskou.
‘Nee-wat, Danie,’ korswil Leon een oggend,’ dit sal nie deug nie. Met jou sal ons ʼn plan moet maak. Jy kan nie elke oggend van jou lewe laat wees vir skool nie. Selfs meneer Ludick en die Tannies in die kombuis moes al kom hand bysit om jou betyds by die skool te kry.’
‘Veral die Tannies,’ help Henning meerweterig.
‘Maar wat kan ek doen?’ kla Danie beteuterd. ‘Ek kan nie vinniger aantrek nie, en ek kan ook nie vroeër in die oggend opstaan nie. Die hoenderhane in die Vrystaat is geleer om sewe-uur in die oggende te kraai, en ons moet half-sewe opstaan. Ek weet nie wat om te doen nie!’
‘Ons sal ʼn plan moet maak. 'n Vrystaatse boer maak ʼn plan. Vrystaatse koshuisbrakke ook.’
‘Kom ons pak Danie se klere die vorige aand uit, dan hoef hy nie in die oggend so na sy goed te soek nie,’ sê Henning hulpvaardig.
‘Hierts, jou kerjakker! Dis nou ʼn slim plan,’ sê Leon en klop Henning op sy kop. ‘Selfs die domste kop kry nou en dan ʼn slim idee!’
‘Ons moet net sy goeters in die regte volgorde uitpak,’ sê Henning oor-entoesiasties. ‘Anders trek Danie sy onderbroek oor sy bo-broek aan, en sy kouse bo-oor sy skoene.
‘Of sy skoene bo-oor sy kouse!’ Leon en Henning lag dat die stof so staan. Danie trek vieserig aan sy das en soek na sy skoenveters. ‘Julle ouens wil my kamstig help, nou spot julle met my.’
‘Reg so, manne,’ sê Leon vernaam, ‘kom ons beraam ons plan. Hoe klim jy elke oggend uit die bed, Danie? Watter metodiek gebruik jy?’
‘Metodiek?’
‘Ja, soos tegniek. Wat is jou modus operandi? Hoe klim jy uit die bed uit? Watter kant eerste?’
‘Bedoel jy my kant, Leon, soos my agterkant? Of die bed se kant?’
‘Ek het jou gesien,’ las Henning onnutsige by. ‘Jy klim elke oggend met jou agterent eerste uit die bed.’
Danie dink so ʼn bietjie na en verval amper in ʼn bepeinsing. ‘Eers sit ek my kleintoontjie op die vloer langs my bed, dan my ander tone, dan my voet, en dan die res van my been. Met ander woorde, voetjie vir voetjie. Soos ʼn trapsoetjies.’
‘Watter been eerste?’ kierang Henning aan Danie se siel. Dit is sy spesialiteit was om altyd die verkeerde vraag op die verkeerde regte tyd te vra.
‘Maak dit saak? kla Danie ongelukkig. ‘Ek klim amper elke oggend van my lewe met die verkeerde voet uit die bed.’
‘Reg-so, Danie. Nou is jy uit die bed uit, en jy moet badkamer toe om jou gesig te was en jou tande te borsel. So, ons pak eers jou tandeborsel op die vloer, gevolg deur jou tandepaste, dan seep en jou handoek en shampoo. Alles in ʼn ry, soos in die Army.’
‘Jy kan ook sommer die vorige aand jou hare natmaak,’ help Henning met nog nuttelose raad. Danie en Leon se bestrawwende kyke het baie gehelp om Vlooi se onsinnighede in toom te hou. Meeste van die tyd, maar nie altyd nie.
‘Danie,’ verduidelik Leon die plan verder, ‘wanneer jy van die badkamer af terughardloop kamer toe, gaan jy as volg te werk: tel al jou klere in volgorde op om tyd te spaar. Eers jou bruin skoene, dan jou grys kouse, gevolg deur jou geel onderbroek, dan jou grys hemp en laastens jou blou Goutie-das.’
‘So, ek trek my klere in sekwensie aan,’ merk Danie verwonderd op. ‘In paaiemente!’ Danie was duidelik diep beïndruk met Leon en Vlooi se ondeurdagte plan, hoofsaaklik omdat hy daardie twee se gesamentlike lae intellek heeltemal oorskat het.
‘Nee,’ meng Henning onnodig in, ‘in volgorde, nie sekwensie nie, Danie. Sekwensie is Frengels - in die Vrystaat praat ons Afrikaans.’
‘Sharrap! Daar is nou vir jou ʼn mooi oorspronklike Afrikaanse woord.’
‘Reg,’ sê Leon ernstig, ‘eers word jou gesig gewas, dan was jy jou hare en jou lyfie blinkskoon. Dan trek jy jou skoene en jou broek aan en jy is loodreg vir skool. Voor die klok lui! Nie ná die klok, soos wat jy gewoonlik daar by die skool aankom nie.
‘Wat van my skooltas, en my boeke?’
‘Ons posisioneer jou skooltas die vorige aand daar langs die tennisbaan,’ adviseer Leon met 'n grynslag om sy bakkies. ‘Dan gryp jy hom sommer so in die verbygaan op pad skool toe. Ons sal een van die standerd sessies kry om jou skooltas aan te gee as jy verbykom. Soos ʼn aflosstokkie.’
Naomie en Renè en die ander koshuisbrakke het gou-gou van Leon en Henning se briljante plan gehoor, en kort voor lank drom al die kinders by die eetsaal saam om die gebeure stap vir stap te volg. Party van die meisies het halsoorkop oor die muur langs die eetsaal geklim, nuuskierig om te sien wat aangaan. Een of twee het selfs met mik-en-druk kameras gereed gestaan.
‘Manne,’ sê Danie uiteindelik, nadat hy hard en diep oor die saak gedink het, ‘dit is ʼn briljante plan. Takties en strategies is die plan uitstekend en kreatief, en goed bedink. Dit is 'n briljante ondeurdagte plan!’
‘Ons dink ook so, Danie,’ antwoord Leon en Henning genoegdoenig en skud mekaar die blad. Daardie jare was daar nog nie ʼn ding soos ʼn ‘High 5’ in die Vrystaat nie. Ander maniere van groet, behalwe bladskud, was daarbenewens ook volksvreemde gedrag waarvoor die koshuistannies gefrons het.
‘Maar daar is net een probleem, manne. My hare.’
‘Jou hare?’
‘Ja. Deur al die stappe wat julle geneem het, moet ek nog voor skool my hare kam. My hare is vir my belangrik, want ek moet netjies lyk.’
Wyse Leon dink vir ʼn oomblik diep na, en laat sy blik stadig oor die Vrystaatse vlaktes en mynhope draai. Op ʼn mooi skoon dag sonder wolke kon jy maklik van Welkom af bo-oor Odendalsrus tot in Bothaville sien.
‘Ek weet!’ sê Leon opgewonde. ‘Die kosyn!’
‘Hoe nou?‘ wil Henning en al die ander koshuiskinders wat deur die vensters loer verwondered weet.
‘Ons moet Danie se kam aan die onderkant van die deurkosyn vasgom!’
‘Maar ek het niks gom nie,’ kla Danie. ‘Net houtlym.’
‘Dis reg so, Danie,’ antwoord Leon slim, ‘jy het mos ʼn houtkam. Ons lym jou kam aan die onderkant van die kosyn vas, dan hardloop jy net onderdeur. Die houtkam kam jou hare, met ʼn middelpaadjie aan die kant. As jy jou middelpaadjie aan die anderkant wil hê, dan draai jy net jou kop skuins. Dit gaan vir jou baie tyd bespaar.’
‘Kan ons nie net sy hare op sy kop vaslym nie?’ wil Henning weet en koes by voorbaat sodat Danie hom nie met 'n klap kan bykom nie.
‘Nee!’ protesteer Danie. ‘As ek onderdeur die kosyn hardloop, gaan die kam mos al my hare agtertoe kam! Ek kam my hare vorentoe! My hare gaan agterstevoor wees!’
‘Dis nie ʼn probleem nie, ou Danie,’ help Leon hom met 'n grynslag van die wal af in die sloot.
‘Draai net die kam om!’
*
Herifnneringe aan my skooldae is soos 'n ou, taai Wilson-toffie wat ons by Virginia Swembad se snoepie vir 'n tiekie gekoop het. Daai toffies was so taai dat jy hulle net halfpad kon eet, dan bêre jy die res vir later. Daai tweede kou was altyd taaier en lekkerder as die eerste een.
Hierdie storie het regtig gebeur, toe ons in Standerd 9 in die Goudveld Koshuis in die Vrystaat was. Leon se kwinkslag het ons laat lag dat die trane later loop. Ons kon net nie ophou lag nie en koshuis-meneer moes ons later kom stilmaak. Ek dink nou nog, vyftig jaar later, aan die grappie en dit kielie nou nog steeds my lagspiere.
*
*
Skryf aan ons oor hierdie artikel
Onthou jy dit, of weet jy meer? Jou kommentaar verskyn hier sodra 'n redakteur dit gelees het.
Die redakteurs kan u kommentaar, met u naam, in die maandelikse uitgawe plaas.
Verwante Artikels
![Nongqai Skrywers & Boeke: Vrystaatstories [Naledi]](/_next/image?url=https%3A%2F%2Fnongqaisa.blob.core.windows.net%2Fnongqai-prod-images%2Fheroes%2Fberge-1794069615775.webp&w=828&q=75)
Nongqai Skrywers & Boeke: Vrystaatstories [Naledi]
April 17, 2026

Nongqai Skrywers & Boeke: Die Donkie is (soms) 'n Wonderlike Ding!
February 16, 2026

Nongqai Skrywers & Boeke - Anita Hamman
May 21, 2026

Nongqai Skrywers & Boeke - Anita van Aardweg
April 9, 2026

Vrouespioen Johnanna Brandt - Petronel Fourie
July 21, 2025
