NONGQAISouth Africa’s National Security MagazineEstablished in 1907
DONATE
Nongqai blog post feature image Missie en BeleidKI-beeld

NONGQAI se Missie en Redaksionele Beleid Verduidelik

Dr Willem Steenkamp
November 24, 2026November 2026 uitgaweVol. 17 No. 115 minute om te lees

[Twee minute lees]

Van die Bestuurskomitee

1.      Ons Missie:

1.1  Bewaar die Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Magte

Die grootste waarheid omtrent enige geskiedenis is dat dit vele fasette het. Die historiese “waarheid” is prakties nooit enkelvoudig nie. In enige oorlog is daar altyd minstens twee kante – met elke kant wat daardie gedeelde werklikheid op eie manier beleef en verstaan het. As net een kant sy eie “waarheid” opteken (terwyl die ander kant die moeite ontsien), dan gaan die historiese rekord noodwendig eensydig wees.

NONGQAI se bewaring van ons Magte se geskiedenis – soos eerstehands vertel deur diegene wat daar was, in hulle woorde soos wat hulle dit beleef en begryp het – dien dus ter balans van die oorhoofse historiese rekord. Ons verwelkom bydraes oor die volle spektrum van Suid-Afrika se militêre, intelligensie, diplomatieke, polisiërings- en veiligheidsgeskiedenis – met die besef dat ware balans vereis dat van elke instelling, rang en rol gehoor moet word. Sodat latere geslagte die volledige verhaal beskikbaar sal hê, belig deur die ervarings en motiverings van elke kant – en dan die regte lesse daaruit kan neem.

Ons heg waarde aan eerlike nadenke, gedeel in goeie trou, terwyl deelgenote aan die destydse konflikte met basiese menswaardigheid bejeën word.

NONGQAI is ‘n platform vir elk se “eie waarheid”, want daarin lê opgesluit die dryfvere en rasionalisering wat die destydse dinamiek se koers bepaal het.  Nie as propaganda of verontskuldiging nie – wel outentiek en op rekord geplaas sonder kwaadwilligheid. Ook sonder om die verlede te probeer verheerlik of daarin te wil bly leef – maar wetend dat latere geslagte nie uitgelewer moet word nie aan die gevaar wat die Nigeriese denker Chimamanda Ngozi Adichie tereg identifiseer het as “die gevaar van die enkel-storie” (the danger of the single story).

Want ons storie verdien om ook bewaar te word, sodat die rekord volledig sal wees.

1.2  Bevorder Strategiese Begrip en Insig, vir Suid-Afrika se Toekoms

Benewens die bewaring van ons veiligheids-, intelligensie- en diplomatieke instellings se geskiedenis, het NONGQAI ook ten doel om by te dra tot 'n beter begrip van Suid-Afrika se hedendaagse en toekomstige strategiese belange.

In 'n veranderende, multipolêre en toenemend onderling verweefde wêreld, is dit noodsaaklik om nie slegs ons historiese ervarings te bewaar nie, maar ook die lesse daaruit te benut om hedendaagse strategiese uitdagings te verstaan en te hanteer.

NONGQAI wil daarom 'n platform bied vir ingeligte gesprek, navorsing en ontleding oor Suid-Afrika se verdediging, nasionale veiligheid en strategiese bestuur, met besondere aandag aan die ontwikkeling, beskerming en benutting van nasionale bates en vermoëns wat ons soewereiniteit, veiligheid en veerkragtigheid onderlê.

Hierdie fokus erken dat geskiedenis en strategie onlosmaaklik verbind is: ons historiese ervarings, institusionele erfenis en vorige strategiese besluite bied belangrike perspektiewe op die keuses en uitdagings waarvoor Suid-Afrika vandag en in die toekoms te staan kom.

2. Redaksionele Beleid

NONGQAI se redaksionele beleid is daarop afgestem om ons missie gestand te doen. Om die geskiedenis uit soveel moontlik belewenis-hoeke belig te kry, asook om hedendaagse strategiese vraagstukke vanuit uiteenlopende perspektiewe te ondersoek. NONGQAI is dus ‘n platform vir sy bydraers se “waarheid” te bewaar – as instelling, het die NONGQAI  tydskrif daarom nie self ‘n agenda of gesigspunt omtrent enige aspek van ons Magte-geskiedenis wat ons wil opdwing nie. Die inhoudelike van enige bydrae wat ons plaas, is streng die verantwoordelikheid van die individuele bydraer.

Nou, in ag genome ons missie dat ons die destydse statutêre magte se “kant” van die konflikte van die verlede ook op die historiese rekord wil sien tereg kom en nie “enkel-stories” by verstek wil laat domineer nie, volg dit logies dat ons dieselfde beleid sal moet toepas met betrekking tot die dek van die multi-fasetlike manier waarop ons bydraers hulle eie destydse institusies beleef het. Ons torring nie aan die inhoudelike van die bydraes ontvang nie, anders as die taalversorging ooreenkomstig ons tydskrif se styl-norme en basiese grammatikale en spel-versorging.

Dieselfde beginsel van uiteenlopende perspektiewe en ingeligte debat geld ook vir bydraes oor hedendaagse strategiese vraagstukke. NONGQAI bied ruimte vir verskillende ontledings en standpunte oor Suid-Afrika se verdediging, nasionale veiligheid en strategiese belange, sonder om 'n bepaalde politieke of ideologiese uitgangspunt voor te skryf.

Dit beteken egter nie dat daar geen vereistes met betrekking tot relevansie en die inhoudelike gehalte van bydraes gestel word nie. Wanneer bydraes as in-diepte historiese ontledings aangebied word (soos onderskei van die deel van persoonlike ervaringe) dan moet dit steun op betroubare bronne. Die onderskeid tussen feite, persoonlike herinneringe, interpretasie en mening moet vir die leser duidelik wees.

Wat ons NIE sal plaas nie, is:

  • ·       Partypolitieke pleitbesorging of aanvalle;
  • ·       Godsdienstige polemieke;
  • ·       Plagiaat of oormatige gebruik van ander se werk sonder outeursreg-erkenning;
  • ·       Lasterlike beweringe, polemiese twisgeskrifte en aanvalle op persoonlike integriteit van ander;
  • ·       Onwelvoeglikhede; en
  • ·       Advertering vir eie gewin.

Wat ons ook bepaald NIE sal doen nie, is om bydraes te sensureer (van publikasie te weerhou) omdat andere mag verskil met die bydraer se “eie waarheid” omtrent ‘n bepaalde instelling of gebeure.

Wanneer iemand met ‘n bydrae verskil, dan is die remedie om die kommentaar-funksie op ons webjoernaal te gebruik, en/of ‘n eie bydrae in te stuur met u waarheid. Mits dit die bal is wat gespeel word en nie die man nie en die bydrae aan ons redaksionele beleid se relevansie- en gehalte-vereistes voldoen, kan u verseker wees dat ons u bydrae / kommentaar sal plaas. Want dit gaan oor die volledigheid van die rekord in al sy outentieke, eerlike diversiteit – dis wat toekomstige navorsers die mees waardevol sal vind (ook omrede afgedwonge enkel-dimensionele groepsdenke juis vir soveel skade verantwoordelik was in die verlede).

In die groter historiese prent is NONGQAI se bestaansregverdiging juis ontleen aan die fundamentele beginsel van “hoor die ander kant” (“audi alteram partem”). Want ons destydse statutêre magte se “kant” moet ook gehoor en op rekord geplaas word.

Net so, egter, moet ook vryelik die volle diversiteit van sieninge komende van persone van binne daardie eensmalige statutêre instellings gehoor word oor die wie, wat, hoe en veral die waarom van dit wat binne-departementeel en tussen-departementeel gebeur het (sonder om die ou burokratiese binne-gevegte opnuut te wil baklei). Met dan natuurlik volle geleentheid aan enigeen om kommentaar te lewer of ‘n weersprekende / aanvullende artikel voor te lê vir publikasie. Uit daardie diversiteit van insette kom die komplekse waarheid (en die lesse daaruit te leer) ten beste na vore.

Dankie vir u begrip – ons sien uit na u bydraes!

(Vir nuwe bydraers, stuur u konsepte asseblief aan: admin@nongqai.org met kopie aan: editor@nongqai.org)


Deel hierdie artikel:

Skryf aan ons oor hierdie artikel

Onthou jy dit, of weet jy meer? Jou kommentaar verskyn hier sodra 'n redakteur dit gelees het.

Die redakteurs kan u kommentaar, met u naam, in die maandelikse uitgawe plaas.