Ek kry sommer Hond se Gedagte as ek so sit en dink hoe die wêreld rondom my verander het ….
In die “ou” dae het ons vir alles stad toe gegaan.
Hier in Queenswood woon ek byna in my eie persoonlike enklawe .... alles is hier, ook die alternatiewe.
Ons het sonkrag, koop water in bottels, pos my pakkies en boeke by Postnet. Betaal die munisipale rekening by die Spar-kassier. Die sekuriteit is voor die polisie op die toneel....
Ek betaal bykans R20-00 per dag belasting aan die stadsraad – my sypaadjies is omgedolwe en so gelaat na waterpype of kragleiding onklaar gelaat het. Teerpaaie is vol gate – ons ry maar so koes-koes en jy moet wakker wees.
Die stad en Pretoria-Wes het ‘n “No-Go”-area geword. Ons is al in die stad beroof voor die Tremloods. Pretoria-Wes lyk soos Ambush-valley – nie meer Happy Valley! My dokter se spreekkamer is in Pretoria-Wes en naby die SAP-kollege. Maar dis nou ‘n rowwe gebied.
Hier op die straathoek staan ‘n armblanke, Petro gee hom gereeld iets. ‘n Randfiguur sit voor die Spar – ‘n in-eengetrekte bejaarde witman – hy lyk ouer as ek - Petro koop hom gereeld iets wat hy nodig het.
Die karwagte is ‘n spesie op hul eie – voor Spar ken die wit karwag ons. Hy “kyk” na die kar en kry elke keer sy R5-00 – ek noem dit “vyf pond”. As ek dit vir hom sê dan lag hy! By die onderdakparkering as ons na Woolies te gaan, is die karwag Franssprekend. Hy het hierheen gevlieg om karwag te wees! Ons gesels in Frans en dan lag ons. Hy is “happy” in teenstelling met Spar se wag.
By ons kompleks se vuilgoedhouers werk ‘n man van “Petersbêg”. Met ‘n fynkam gaan hy deur die huisafval. Alles word mooi sorteer en op sy (onwettige / onpadwaardige) karretjie gelaai. (Die ou padvoertuig ordonnansie het sulke voertuie verbied.) Hy verdien ongeveer R150-00 vir ons vuilgoed.
Ek is in Hatfield by Protea-uitgewers gewees. Ek wag dat my gade, sy my moet kom oplaai. (Ek wou nie die motor alleen in Hatfield laat nie.) Daar is ‘n vrou met ‘n seuntjie. Hulle het so ‘n tent waar hulle allerhande goedjies verkoop. Ek sien ‘n naelknipper en voel vir geld in my sak. Ek het soos gewoonlik niks by my nie. Sy sê ek kan dit maar gratis neem. Ek weier. Ek gesels met haar n vra waar sy vandaan kom. “Tanzanië”, sê sy. Sy en die seuntjie het hierna gevlieg. Ons het selfs vroue van Zimbabwe met babas wat lang die pad by verkeersligte bedel. Toe ek polisieman was, was dit ‘n oortreding om te bedel en “idle & undesirable” te wees, aldus destydse wette.
So paar jaar gelede in die winter neem ek ‘n warm bad – toe ek so lê, toe dink ek aan ‘n man wat ek gevang het toe ek ‘n sersant was, hy is tot gewoontemisdadiger verklaar ----- en hier bad ek lekker en kry warm. Wat het van die arme ou in die tronk geword dink ek? Ons het darem ‘n lekker lewe.....
‘n Paar jaar gelede woon ek ‘n Christelike Sakemansontbyt by. Ek is genooi want die spreker is van die polisie. Hy is ‘n swart polisieman en staan op en stap na die verhoog. Hy staan op die verhoog en dadelik merk ek op sy arms en moue hang los langs sy sye. Swart hande steek by die pak se moue uit en dit lyk dood! Dooie hande! Hy kom van een of ander Karibiese-eiland. Toe vertel hy sy storie: ‘n Besete man het hom aangeval en met ‘n kapmes albei arms afgekap! Hy bely sy geloof en vertel sy storie vol liefde vir God – hoe gaan jy na die toilet wonder ek?
Terug na Queenswood en mens kan sê ons is weer terug in die Middel-eeue. Ek woon in ‘n stadjie op die grens van die groot stad. Hier is ek veilig en vir die voorreg betaal ek belasting aan die stadsraad en ook aan SARS – ek kry nie altyd waarvoor ek betaal nie – maar ek is baie dankbaar vir die veilige omgewing waarin ek woon. Dinge gaan nog baie verander – byt vas en kyk wat gaan gebeur.
Ek dink aan my kerk, my gemeente en die bevolking wat hier woon – sommige is vaste inwoners ander weer in plaaslike en internasionale pendelaars. Ek dink baie aan die bedelaars. Daar is ook dames met draad-stootkarretjies. Waar slaap hulle? Waar is hul ablusie geriewe. Een versteurde man woon op ‘n eiland in die pad.
Ek kry die mense jammer maar hoe kan een ou vanaf ‘n Franko-foniese Afrikaland vlieg om hier ‘n karwag te wees en die ander ou staan op die hoek en bedel?
© nongqai.org
Skryf aan ons oor hierdie artikel
Onthou jy dit, of weet jy meer? Jou kommentaar verskyn hier sodra 'n redakteur dit gelees het.
Die redakteurs kan u kommentaar, met u naam, in die maandelikse uitgawe plaas.





